Die lewe is by tye deksels hard, soos outydse niekerbôls. Die versoeking is om net vas te haak, te bly lê en te aanvaar.
Ek stoei die afgelope maand of wat met “bewustheid” (mindfulness). Ek probeer mense leer om meer bewus te leef. Bewustheid is die belangrikste bousteen van groei en ontwikkeling.
Terwyl ek nou deur die koerant blaai op Netwerk24 se portaal, kom die artikel verby wat ek die afgelope naweek opgemerk het, maar nie gelees het nie. Die
resprek wat Hanlie Retief met Akani Simbine gehad het nadat hy en sy vriende silwer los gehol het tydens die finaal van die 4x100m aflos tydens die Olimpiese Spele 2024. Hy noem homself die “amperman” wat wedlope met breukdele van sekondes nie maak nie en net nie daardie medalje los hardloop nie.
Tokio was die keerpunt. Hy wou aan alles ‘n einde maak. Nie goed genoeg nie. ‘n Medalje is die identiteit en hy kry dit net-net nie. Weg is sy identiteit. Dit word ‘n NIKS. Van al sy harde werk kan hy niks wys nie.
Toe kom 2024. Weer NIKS, breukdele van sekondes te laat. Maar ‘n heel ander Akani. Ontspanne, met ‘n wye wit glimlag en daar kry hy saam met sy span die silwer vir hulle 4x100m afloswedloop.
Wat het hierdie verhaal met “bewustheid” te doen?
Waag dit net om die oomblik te gryp. Waag dit net om die in jouself te kyk om te vind waarmee jy jouself ondermyn. Waag dit om regtig diep eerlik te wees met jouself sodat jy die ego, die voorgee, die verkeerde identiteit kan afgooi.
Waarin het jy jou identiteit geanker? Wat doen jy in die oë van die toeskouers wat goed en reg is, sodat jy ‘n “medalje” daarvoor kan ontvang? Hoe lyk die medalje wat jy graag wil wen?
Dalk moet almal van ons maar by tye soos Akani Simbine vir twee weke boemel en onsself diep bejammer om (met hulp) die ware jy, die ware doel te vind.
Die “medalje” is nie jou identiteit nie. Die “medalje” is nie jy nie! Om ‘n keer of wat gestroop, eerlik ondersoek in te stel na wie jy regtig is, is baie meer werd as om met ‘n goue medalje voor skares te staan. Die wen van die medalje, gaan nie blywende geluk en tevredenheid bring nie. Dit is net tydelik. Dit word stof, dit raak vergete wanneer die volgende persoon wen.
Wanneer ons met diep “bewustheid” kyk na meer as die openbare prestasie, begin ons verstaan van ‘n nalatenskap van vreugde, van inspirasie en bemoediging. Dan begin ons eers verstaan dat my menslike waarde nie in die uiterlike lê nie. Dit is nie volhoubaar nie.
Daarom: speel speurder vir jouself. Bou ‘n speurverslag op asof jy jouself moet verdedig in die hof. Gooi die belewenis van minderwaardigheid weg.
Leef met bewustheid uit die gawes wat jy het om die wêreld om jou ‘n beter plek te maak.
Waag dit om jou inherente waarde uit te deel na ‘n stukkende wêreld, ‘n wêreld wat elkeen se unieke gawes nodig het om gesond te word en produktief te lewe.
Waag dit net.
Taalversorging en vertaling na Engels deur Rudie Thirion.
082 377 3303 | rudie.thirion@gmail.com