Hierdie Kersdag is sag op die gemoed. Dis bewolk met so nou en dan ‘n paar druppels. En selfs die fynste motreën druppeltjies. Vroeg al het Mirrelkind gesê dis regte “George weer”.

Hoekom “George weer”? Iewers in ons lewe het ons die Vroue Leër Kollege ontmoet. Dit was nog in die bestaan van die ou Nasionale Weermag, die kollege waar vroue opgelei is, in George aan die Tuinroete.

Tydens die Desember vakansie elke jaar kon Staandemag lede bespreek om daar te gaan vakansie hou. Dan kry jy ‘n kamer of twee in die koshuis. Daar is ontbyt ingesluit en vir die res moes daar self voorsiening gemaak word.

Van my gesin se mees onvergeetlike vakansies het daar gebeur. Ons het verlief geraak op die Tuinroete. Die kuslyn tussen Plettenbergbaai en Mosselbaai was van ons mees geliefde kuierplekke. Wildernis se strande het uitgestaan.

Volg My Op Facebook

Terug na vandag. Met die sagte weer, rustig tuis, kinders nogal versprei, het Mirrelkind die nostalgie los gepluk.

Party kinders woon in die Kaap – dit kon net sowel op die maan gewees het. Die ander het by “ander Ouma” gaan Kersfees hou.

Hierdie jaar was vir meer van ons ‘n riller. Op verskillende gebiede en maniere. Sover as wat jy gaan, hoor jy die mense wat praat van ‘n uitsonderlike moeilike jaar. Selfs op RSG hoor jy dat mense hiervan praat.

Met my nadink oor Kersfees en die ware boodskap van Kersfees, het ek weer besef dat ons grootliks geseën is. Wie is die “ons”? Die deursnee Afrikaner. Moenie my verkeerd verstaan nie. Ek sê nie dat geseën beteken dat ons almal dit noodwendig maklik het nie.

Met my nadink oor Kersfees en die ware boodskap van Kersfees, het ek weer besef dat ons grootliks geseën is. Wie is die “ons”? Die deursnee Afrikaner. Moenie my verkeerd verstaan nie. Ek sê nie dat geseën beteken dat ons almal dit noodwendig maklik het nie.

Geseën beteken dat ons nog gesins- en familie tradisies het wat van een geslag na ‘n volgende oorgedra word. Juis ‘n insetsel wat oor die radio uitgesaai is, bevestig dit. Daar is gevra wat ons mense op Kersdag gaan doen.

Die gemiddelde reaksie was een van “tradisioneel”. Ons gaan heerlik eet; skaapboud, aartappels, verskillende groentes en slaaie. En moenie die nagereg vergeet nie. ‘n Besonder geliefde nagereg is Malvapoeding met roomys en vla of room.

Luuks en ryk! Heerlik. En KUIER met geliefdes.

Ek wil juis in die lig van tradisies wat gemoem is, weer vra. Reik uit na mekaar. Moenie julle ouers en ander seniors vergeet nie. Die eensaamheid wat so verskriklik prominent geraak het tydens die Covid 19 pandemie, hang steeds soos swaar mantels om mense se skouers. Alleen en eensaam is heeltemal verskillende belewenisse.

‘n Aangrypende verhaal in die koerant van ‘n jongman wat op grond van verkeerde besluite op straat beland het, en maande sonder heenkome was het ‘n oproep gemaak en sy pa om verskoning gevra vir sy gedrag. Hulle is emosioneel herening. Ouers wonder altyd waar hulle kinders is, en of dit goed gaan.

Kinders, wees goed vir jou ouers. Selfs die ergste ouers het nie iewers ‘n besluit geneem om elke dag van jou lewe hel te maak nie. Ja, daar is baie ouers wat oënskynlik nie te waffers vaar nie. Maar hulle weet dalk nie van beter nie. Ja, daar is plekke waar ouerleiding aangegee word, en ouers maak nie daarvan gebruik nie. Dit is so!

Hulle wou hê jy moet ongeskonde deur die storm en drang van jou lewe kom, want daar is ‘n lewe na skool en opleiding.

Ons vier Kersfees om die koms van Jesus Christus na die aarde te vier. Of jy glo dat Hy gekom het of nie. Daar is vrede en vryheid in Christus. Of jy dink dis reg of verkeerd om Kersfees op 25 Desember te vier. Dis nie genoeg rede vir familietwis nie.

Daar is reeds soveel haat wat hierdie jaar afspeel. Dis oorlog en haat en bomme en oorlogsgevangenes en nuut geskepte maniere van oorlogvoering, naamlik met hommeltuie.

En ek het gedink hommeltuie word net gebruik om wonderlike videos uit die lug te neem van walvisse in die see of kleingoed wat rugby speel of wat jy ook al uit die lug sou wou bekyk. Elke stukkie nuwe tegnologie wat die mooi in die wêreld moet vertoon, word sommer ook moordwapens.

Mag 2024 se Kersfees die laaste Kersfees wees waar haat in ons kele af gedruk word. Van RNE twis tot Hamas en Israel se wrede toutrekkery oor ‘n lap aarde. Mag Putin tot sy sinne kom, mag die blatante wreedheid tog net end kry..

Vrede op aarde en in die mense ‘n welbehae…

Dis die kern van my nadenke vandag en die paar dae vooraf.

Ek mag hoop, droom, bid.

Post navigation