Voor my kamervenster is ‘n klip muurtjie. Waarom dit daar gebou is, weet ek nie. Ons het dit so gekry toe ons 29 jaar gelede hier in getrek het. Intussen het Kammie al ‘n keer aanbeveel dat ek die muurtjie afbreek, maar ek het vas geskop. Vir my is die klip muurtjie mooi. Maar ek kon nog nie regtig iets noemenswaardig daarmee doen nie. Ek het ‘n mooi bedding met Strelitzias en ander blommetjies voor die muurtjie, wat my besonder baie vreugde verskaf.
So ‘n rukkie terug begin ek in alle erns die vrugte vretende voëls in die tuin voer. In die winter is daar heeltemal te min kos vir hierdie tipe voëls. En watter vreugde word hierdie voertafel nie!
Elke dag sit ek ‘n vruggie en grondboontjiebotter op die muurtjie. Wanneer ek op my bed sit en werk – ek doen dit nogal graag, veral wanneer dit so erg koud is – sien ek die voëls daar kuier.
Soms is die kuier daar op die muurtjie so vriendelik en mededeelsaam. Hulle maak beurte om ‘n happie lemoen of appel of grondboontjiebotter te eet.
Maar boeta, as die muisvoëls opdaag, is daar ‘n stryery. Party sit so eenkant en kyk hoe hulle soos vrate tekere gaan en niemand anders toelaat nie. So af en toe, sit hulle eenkant en kyk. So al asof die ander voëltjies saamstaan om hulle op ‘n afstand te hou. Uiteindelik kry almal darem vir daardie dag ‘n kans om ‘n happie te vat.
Die naweek en gister se uit kyk het my diep laat dink. Ons kyk so maklik net hier binne vas. Teen die stof en spinnerakke van ons gemoed. Die koue maak dit nie makliker nie. Dan wil ons nog minder buite kom, nog minder uit kyk.
Van jongs af, as jong pastorie vroutjie en nou as berader (wat regtig met die lelikste werk wat die samelewing kan bied), dink mense dat my lewe sonder probleme en sukkel is. Ai, as mense maar net wil verstaan dat ons ook maar net gewone mense is, met gewone probleme en hartseer.
Ek is diep geraak deur die dood van ‘n jong vrou wat ek leerken het toe sy nog ‘n skoolkind was. Ons paaie het weer gekruis toe sy al ‘n mamma van twee dogtertjies was. En nou moet twee dogtertjies sonder ‘n mamma groot word.
Die Spreuke skrywer het ‘n baie belangrike ding geskryf: Wees baie versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe. Spreuke 4:23.
As jy jouself oorgee aan die swaarkry van die lewe, word dit deel van jou menswees. Dit word ‘n sware las om te dra.
As jy besluit (die geheim is besluit) dat jy na die helder kant van die lewe gaan kyk, word dit makliker om positief te lewe.
En hoor my mooi, dit gaan nie oor goedkoop, toksiese positiwiteit nie, dit gaan oor dankbaarheid vir dit wat ons beleef.
Daar is ‘n grappie oor die senior vrou wat NOOIT iets sleg van enige mens gesê het nie.
Die dominee besluit dat hy haar gaan uitvang tydens huisbesoek (te dominees nog huisbesoek gedoen het).
Tydens die kuier maak hy die stelling: Maar tannie, mens kan tog sekerlik niks goed van die duiwel sê nie. Waarna die tannie vir ‘n rukkie sit en dink en antwoord: maar die duiwel het darem geen lui haar op sy kop nie!
Skaak mat. Kyk uit, kyk buite toe, sien die voëltjies en hulle snaaksighede raak. Daar is baie meer vreugde om ons, as wat ons dink.
Taalversorging en vertaling na Engels deur Rudie Thirion.
082 377 3303 | rudie.thirion@gmail.com